Die berge sal uitroep…

Vanaand se post skryf ek direk na ons kerk se sang groep oefening. Terwyl hierdie gedagte en waarheid posvat in my hart het ek gedink ek wil dit verwoord in iets wat ek kan deel met julle. Hierdie post gaan oor oorwinning, maar meer spesifiek hoe ek dink en hoe ek in oorwinning leef, sien en uitleef in my lewe.

Daar is en was tye waar die storms om ons woed, dinge in ons lewens net deurmekaar gekrap word. Dit kan net een ding wees of sommer menigte goed. Maak nie saak of jy besig is om ‘n Goliat aan te vat of ‘n weermag van miere nie. Ons is immers nie besig met ‘n klaaglied kompetisie nie. My post vanaand is oor wat maak jy in hierdie tye met jou eie vrede, met jou eie hart? Gee jy jouself prys en dobber net deur jou situasie tot die einde van die storm kom? Raak jy vyandig en moet na die storm gaan omverskoning maak vir ander se lewens in wie jy storms veroorsaak het? Of is jy die een wat soos ‘n groot poel net ‘n klein rippel effek maak as die wereld sy rots in jou poel dompel?

Ek moet vanaad bieg en sê dat toe die storms oor my lewe gekom het ek in my privaatheid redelik woes saam gedonder het met die storms. Ek het met tye myself oorgegee en gedink dat die einde nooit gaan kom nie, myself berus by ongeluk as deel van my normale voorland te hê. Ek het storms in mense se lewens gemaak. Vandag is daar goed waaroor ek spyt is, spesifiek goed wat ek gedoen het. Ek is spyt oor waar ek verraai en vermorsel is en nie in myself kon sien wat gebeur nie.

Die bemoedeging van dit alles is dat met dit saam het ek ander mense ontmoet wie ek kon help. Ek het hierdie blog begin en die wat al my kon bedank het, het so diepe dankbaarheid in my geskep dat ek nie meer kan anders as om aan te gaan met hierdie blog nie. Ek het lewenslesse geleer, myself beter leer ken, tot insig gekom van wie ek is en hoe ek optree. Die belangrikste ding wat ek wel geleer het is om in dankbaarheid te leef vir wat ek het in elke oomblik, om oomblik na oomblik te leef eerder as dag vir dag. Oomblikke is kosbaar, dae kan geruineer word deur een oomblik. ‘n Goeie oomblik in ‘n dag maak die ergste dag beter as wat hy was voor daardie oomblik.

So wat is die huidige stand van hoe ek die storms trotseer? My ma sal enige iemand vertel dat my hardnekkigheid nie einde ken nie en ek nie een is wat gaan lê nie. Beteken dit dat wanneer die storms tref (groot of klein) dat ek soos ‘n beduiwelde buffel net myself deur forseer? Dit maak dalk sin want dit verkort, tegnies, jou tyd van pyn. Die probleem is jy veroorsaak storms in ander, en die rippel effek is dat jy jou vrede vermorsel met duisende haarfyn snye terwyl jy verkondig hoe jy jou storm getem het. Wie lieg nou eintlik vir wie?

Die fatalistiese dobbertjie is iets wat ek nie verstaan in praktyk nie. Asb hoor my mooi hier, ek verstaan emosioneel dat mens meegesleur voel. Dit is normaal en mens voel so. Soos my vrou altyd vir my sê, “Emosies hoef nie sin te maak nie, hoe jy voel is hoe jy voel.” Wat ek wel nie verstaan van die dobbertjie persoon nie is dat hulle in sak en as sit en vir almal wat hulle kan bykom vertel hoe hulle ‘n ou arme dobbertjie is. Twak daarmee! God het nie neulende kindwees vir ons beplan nie. Lewe in oorvloed. So as jy besig is om te dobber dink vir ‘n oomblik wie God rerig is. Nie net die Goeie Vader nie, maar onthou ook Hy is die God van die leerskare, die Een wat nasies vernietig het. Vertel my nou dat een van Sy kinders ‘n patetiese swakkeling is wat maar net moet aanvaar wat alles met jou gebeur?

Hoe ek, en ek hoop hierdie help iemand anders, myself probeer in storms hanteer is geskoei op beginsels wat ek vandag besef al van my eerste en enigste Winkelspruit kamp af kom.
Een van die mense daar het gesê as jy in ‘n storm tyd ingaan vat ‘n oomblik en raak rustig. Sien, die storm om jou gaan aanhou woed, maar daardie oomblik wat jy vat gaan jy in jouself kan vrede skep. Al maak dit geen verskil in die storm om jou nie.
Besef dat dit wat met jou gebeur net tydelik is. TYDELIK! Al is dit net tydelik voor jy hemel toe gaan bly hierdie storm net tydelik.
In die kalmte glo ek dat die uitweg sal kom. Bid, deurdink jou situasie. Onthou dat die situasie waarin jy jouself bevind SAL NIE meer wees as wat jou kragte kan hanteer nie.
Begin dan in oorwinning te leef. Vir my beteken dit gewoonlik dat ek erens (ek glo dis God) sal begin ‘n wysie neurie en kort voor lank sal ek akom op die woorde en dan die lied begin sing. Die lied is gewoonlik dan vir my op emosionele vlak opbouend en word my eie oorwinnings kreet. Huidiglik is dit die volgende lireike van ‘n lied:
“Die berge sal uitroep, die kranse antwoord gee. Groot en verhewe, groot en almagtig is U.”
Vir my is hierdie refrein ‘n belofte aan my dat dit waardeur ek gaan nie my ten gronde sal bring nie, die uitdagings vir my nie sal onmoontlik wees nie en dat “die berge sal uitroep” so groot gaan my oorwinning wees. Ongeag hoe ek voel met tye, ongeag hoe oorweldigend dit mag wees.

Ek glo vas dat daar uitkoms is vir elkeen van ons. Ek weet dat daar ‘n plan is vir dit wat jy vandag moet doen. Dat wie jy is die mense om jou positief sal aanraak. Moenie toelaat dat enige ander gedagte by jou posvat nie. Jy is ‘n oorwinningskind!

Vrede

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s