Is jy prioriteit in sy/haar lewe?

Hierdie is weereens ‘n titel van so paar jaar terug. Ek het die laaste tyd vreeslik gedink oor iets eenvoudig maar tog vreeslik kompleks. Dit is, waar sit jy jou energie in? Want dit wat prioriteit is in jou lewe is tog waar jou aandag gaan wees? Dit is tog hoe dit werk? Ek besef dit op soveel verskeie vlakke. Ons geloof, ons vriendskappe en ons bande met mense dui baie keer waar ons prioriteit is.

So hoe wys ons vir iemand hulle is prioriteit in ons lewens? Dit kom vir my baie vinnig terug na net een ding, ons tyd. Niks is vir ons so kosbaar soos ons tyd nie. Dit is die een item wat ons nie kan terug kry nie. Wat as ons dit mors dit vir altyd verby is. Dit waarvoor jy tyd maak is vir jou belangrik. Dit wat jy op fokus is waar jou hart is. Ek het eendag in die mall geloop en daar het oom verby gestap met sy vrou. Wat vir my so opmerklik was is daar het voor hulle 3 vrouens gestap wat jonger en mooi was, wat sy vrou opgelet het. Toe gebeur daar die mees mooiste ding ooit, en snaaks, die oom loop amper die drie vrouens uit die wereld uit want hy was besig om vir sy vrou te staar terwyl sy voor haar kyk. Ek het amper die oom gecheer, want sy fokus was op die regte plek. Die tannie moes dalk besef het hoe haar man vir haar kyk. Ek dink sy sou van voor af verlief geraak het vir haar man.

Ek begin al meer te besef dat die mense vir wie jy tyd maak en wat tyd maak vir jou is die wat eintlik belangrik is. Dit is hulle wat werklik waarde het vir my. Dit is die mense vir wie ek omgee. Dit is wie my tyd gaan kry. As jy vandag dink aan die mense op jou chat lysie, hoeveel van hulle doen werklik moeite om met jou in verbinding te kom? Hoeveel tyd maak jy en jou maat om bymekaar te kom en net te kan connect?

Vanaand het ek nie antwoorde nie. Net meer en meer vrae. Hoe mense redeneer en dink en prioritiseer is vir my duister. Ek ken my hart en wandel daarvolgens. Miskien is dit genoeg.

Leave a comment